Plankton (enkelvoud: plankter) is ’n uiteenlopende groep organismes wat in die water voorkom en wat teen ’n stroom kan swem.[1] Hulle is ’n belangrike bron van voedsel vir talle groot seediere soos visse en walvisse.
Dié organismes sluit in alge of bakterieë in oseane en vars water; hulle word volgens hul ekologiese nis gedefinieer eerder as volgens filogeniese of taksonomiese klassifikasie.
Hoewel die meeste plankton mikroskopies klein is, sluit dit organismes van verskillende groottes in, soos die jellievis.[2]
Daar word algemeen onderskei tussen die outotrofiese fitoplankton (plantaardige plankton) en soöplankton (dierlike plankton), hoewel fito-planktonorganismes vandag meestal nie meer onder die planteryk geklassifiseer word nie.
Aangesien slegs plantaardige organismes daartoe in staat is om die organiese stowwe op te bou wat as voedsel vir ander lewende organismes dien, is die soöplankton en alle ander diere wat in die water leef, direk of indirek van die outotrofiese plankton afhanklik. Die fitoplankton het dus dieselfde rol in die water as wat groen plante op land het, en om hierdie rede staan hulle soms as die weivelde van die see bekend.
Hulle is die basis van die meeste voedselkettings en ekologiese piramides in water. Die samestelling van die fitoplankton (en daardeur in groot mate ook die van die soöplankton) is van verskeie faktore afhanklik. Die belangrikste daarvan is die hoeveelheid lig wat in die water deurdring, die beskikbaarheid van voedingstowwe, die soutgehalte, die waterstroming en die temperatuur van die water.